Ou klere, plastieksakke, verrottende kos, verrottende hoenders, groente, selfs soms ‘n ontbindende hond – dit alles was opgestapel in die reuse bruin berg van ‘n vullishoop wat gestrek het so ver as wat ons kon sien. Van ver af kon jy dit ruik. Daardie eerste dag toe ek op die vullishoop opgestap het saam met die ander vrouens, was ek heeldag naar, so erg was die reuk.
Vir 10 jaar, van 1972 tot 1982, het ons op daardie vullishoop gewerk. Ons werk was om gebreekte bottels, karton en plastiek op te tel en te verkoop aan ‘n Indiërman genaamd Mnr Faro, wat op die rand van die vullishoop gewag het. Op ‘n goeie dag het ek R30 gemaak. Ek kon brood, paraffien – dit het een pennie gekos – rys en mieliemeel koop.
Op ander dae het ons slegs genoeg verdien om een klein pakkie rys te koop. Daar was nooit enige vleis of groente nie, nie genoeg geld daarvoor nie. As ek nie na die vullishoop toe gegaan het nie, het ons geen kos gehad nie. Selfs op naweke, as ek nie gegaan het nie, het ons niks gehad om te eet nie. As jy kinders het, het hulle gedurig kos nodig.
Dan moet jy weer brood en alles van voor af gaan koop. Van die vrouens het van die kos wat hulle op die vullishoop gekry het, teruggevat huis toe, maar ek kon dit nooit doen nie.
Eendag het ek gesien hoe mense klere op die ashoop optel, en toe begin ek dit ook doen. Van daar af het my kinders klere gedra wat ek op die vullishoop opgetel het. Ons het hulle gevat en gewas. Toe my kleindogter Nosanelisiwe gebore is, het ek selfs ‘n sak vol lapdoeke op die vullishoop gekry sodat ons hulle vir haar kon gebruik.
Soms het die witmense hierdie goed in ‘n netjiese, skoon swart sak gesit en ons het hulle so gekry – komberse en selfs kussings en borde, netjies toegedraai. Ek wonder waarom hulle daardie goed weggegooi het, want daar was niks met hulle verkeerd nie. Ons het baie min gehad, maar ek het baie klere gehad, dit wat ek op die vullishoop gevind het, en ons het soos dames aangetrek, jy weet?
Terwyl ons so op die vullishoop gewerk het, het ons nooit baklei nie, ons het altyd gelag. Hierdie een sou dit sê, daardie een weer dat, en dan het ons gelag. Een sou ‘n ding optel en sê. ‘Mev Skefile, neem hierdie ding vir jou.’ Dit was wonderlik, al het die plek gestink. Jy moet trots op jouself wees as jy niks het nie en gebruik wat God aan jou gee.
Translated by Elna Van Rhyn